Ek het n Tannie Alta in my lewe. Sy is nie sommer net n Tannie nie, sy is my regte Tannie. Julle weet, soos in n familie Tannie. Soos in my nefie en niggie se ma. Behalwe dat ek baie lief is vir haar omdat sy haar omgee en liefde en ondersteuning so opreg en maklik gee vir my, is sy ook vir my soos my geestelike mentor. Sy lewe baie naby aan die Here en ten spyte van die feit dat sy self al die seerste seer ervaar het – om n kind in die fleur van sy lewe onverwags aan die dood af te staan, en so ook haar man onder baie uitdagende omstandighede, is sy altyd blymoedig en vol van lof vir die Here. Hierdie tannie Alta van my laat nie een oggend verbygaan sonder om n Bybelvers of dagstukkie met my te deel nie, hoe kosbaar is dit nie vir my nie! Dit het al so deel geraak van my vroegoggend se deur-die-slaap-opstaan, dat ek nie meer n dag kan ingaan daarsonder nie. Dis of die Here sommer soms so deur haar met my praat.

Ek wil graag spesifiek vanoggend se stukkie met julle deel. Julle almal ken dit, maar dis so lekker om dit weer te hoor. Ek skryf dit sommer, dan hoef julle nie te gaan opsoek nie.
Matteus 10 : 29 – 30
‘Is twee mossies nie vir n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.’

Nou wanneer jy hierdie lees, wat dink jy, vir wie gee God die meeste om? Vir mossies of vir jou? Ons hoef nie eers hierdie vraag te antwoord nie, ne. God gee duisend maal meer vir JOU om! Van jou grys-uitgegroeide-hare-kroontjie tot by jou skewe kleintoontjie is jy belangrik vir Hom! Nou ja, as ons dit weet, hoef ons mos nou glad nie meer bang te wees vir wat die wêreld of omstandighede of mense aan ons kan doen nie, ne.

Ek hoop dat jy ook n Tannie Alta in jou lewe het, of dat jy dalk n Tannie Alta vir iemand anders is, want hierdie tannie Alta’s van die lewe is soos Ligdraers in ons lewens.

Mooi dag verder vir julle!