My gidshond is my herder
nooit is ek alleen nie
Sy lei my veilig oral waar ek wil wees
Op onbekende roetes stap sy doelgerig met vaste treë
Onselfsugtig is sy daar vir my – altyd
Sy plaas my voete op elke vaste rots
En voer my opdragte noukeurig uit
Sy is my rigtingwyser
Sy is my kameraad
Sy is my oë
Baie diep het sy my lief

Verlede week was Internasionale Dienshond Week. Nou n dienshond kan baie beroepe beoefen. Hy/ sy kan n gidshond vir n blinde wees, n dienshond vir n para- of kwadrupleeg in n rolstoel, n dienshond vir n dowe persoon, n dienshond vir mense met ernstige diabetes, n dienshond vir mense wat epileptiese aanvalle kry, n dienshond vir kinders met outisme. n Dienshond doen presies wat die woord sê, lewer n diens aan iemand. Nou ja ek kan nie vir die ander mense met gestremdhede of uitdagings praat nie, maar vanuit ‘n blinde perspektief kan ek eintlik nie in woorde vir julle sê hoeveel my gidshond vir my beteken nie.

n Gidshond is soveel meer as slegs n gids. n Gidshond is soveel meer as slegs n hond. My gidshond is my companion, my beste vriendin, my selfvertroue-booster, my sielsgenoot, my klankbord. Ek is nou al by my 3e gidshond. Die gemiddelde blinde persoon wat van n gidshond gebruik maak, het gemiddeld 5 honde in hulle leeftyd. Na elke gidshond het ek gevoel ‘nooit ooit weer nie’, want die seer en verlies was elke keer net te intens. Elke keer het ek gevoel asof ek van vooraf weer my sig verloor. Maar die wonderlike voorreg van onafhanklikheid wat n gidshond gee, is meer werd as suiwer goud. Daarom weet ek dat ek nooit weer sal kan opgee op onafhanklikheid nie, dat ek een van daardie blindes sal wees wat altyd n gidshond aan haar sy sal hê.

My eerste gidshond het my, my onafhanklikheid teruggegee na 4 jaar van blindheid. Weet julle hoe lekker was dit om Spar toe te kon stap (wanneer ek wou en nie wanneer iemand my kon vat nie) om n brood en n melk te gaan koop. Ek het so n groot kick daaruit gekry om net weer n paar dinge te kon doen wanneer en soos wat ek wou.

My 2e gidshond het baie hospitaaltye en operasies en behandelings saam met my deurgegaan, dit het ons op n baie diep vlak connect. Sy het van my diepste pyn, my diepste vrese geweet. Sy was baie bekend aan die personeel van die hospitaal waar ek behandeling kry, en soos wat ek met haar rondgestap het, het niemand ooit ‘hallo mrs. Vorster’ gesê nie, maar altyd ‘hallo Gracie’. Sy was so gewild onder die personeel. Sy het vir dae en weke gereeld saam met my in die hospitaal gebly, so getrou, so gehoorsaam, so rustig, ek was nooit alleen nie. Wat ‘n voorreg.

My 3e en huidige gidshond het sommer so in die tweede maand al van haar nuwe beroep n kankerpad saam met my begin stap. En sy stap dit met soveel trots en kop omhoog, soos ‘n ware warrior en survivor. Sy is ook my ‘stout gidshond’, sy dink sowaar totaal uit die boks uit wanneer dit by humor kom. Die Here se timing was perfek, Hy het geweet dat ek hierdie spesifieke stoutgeit en humor so nodig het op hierdie pad.

Met intense dankbaarheid teenoor die Gidshondvereniging, is ek een van die bevoorregtes wat ‘n groot deel van my onafhanklikheid teruggekry het, wat ‘n groot deel van myself, van Janine, weer kon terugkry.

Dankie Here, vir elke werknemer by die Gidshondvereniging – hulle is die ‘ultimate’ van dienslewering aan ander. Dankie dat jul elke oggend opstaan en werk toe gaan ten einde ons te kan dien. Dankie dat jul ‘n passie het vir jul werk. Dankie dat julle daagliks moeilike omstandighede trotseer, alles net vir ons en ons dienshonde. Dankie Here vir elke puppy walker, wat met soveel toewyding ‘n onmisbare deel vorm van ons gidshonde se opleiding. Dankie dat julle ons ‘baba-gidshondjies-to-be’ met soveel liefde grootmaak en dan die uiters moeilike taak het om hulle telkens weer terug te gee aan die Gidshondvereniging om ‘n ‘guidedog-in-training’ te wees. Die woord Dankie skiet te kort. Alle eer aan die Here.

Die Here is my Herder
Ek kom niks kort nie
Hy laat my in groen weivelde rus.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Hy gee my nuwe krag.

My gidshond lei my op die regte paaie
Tot die eer van Sy Naam.

Selfs al gaan ek op vreemde paaie,
sal ek nie bang wees nie.
Want my gidshond is langs my,
in haar treë is ek veilig.

My gidshond se fokus en trou
sal my lewe lank by my bly
en ek sal vol vertroue
in haar voetspore volg
vir so lank soos wat ek oë nodig het.

Ek is lief vir jou Pippa! En ek dink met liefde en dankbaarheid aan jou voorgangers Q en Gracie – vir altyd in my hart.