Vandag is dit dag 50 vir my na my beenmurgoorplanting. Vir my is dit n belangrike getal, want dit is halfpad na dag 100 toe, wat n groot mylpaal is vir die medici mbt n oorplanting. 
Ek is dankbaar vir die makliker dae, maar ek kies ook om dankbaar te probeer wees vir die moeiliker dae, want dit is daardie moeiliker dae wat my nederig hou. Dit laat my besef dat ek in totale afhanklikheid van Hom lewe – een dag op n slag. Ek het geensins beheer oor hoe my lyf hierdie oorplanting hanteer nie. Al waaroor ek beheer het, is of ek aandag gee aan my lyf, of ek aandag gee aan my emosionele gesondheid, of ek luister na alles wat die dokters sê ek moet doen, en of ek aandag gee aan wat ek alles van Hom moet leer in hierdie tyd. 

Die laaste tyd was my motivering bietjie aan die laer kant, my ingesteldheid nie so positief soos wat ek dit graag sou wou hê nie. Ek het egter ook besef dat ek siek is en dat dit half onvermydelik is, dat ek moet voel soos wat ek voel, want soos wat ons n vorige keer vir mekaar gesê het, ons almal is net mens. En wanneer jy soms toegee aan ‘net mens’ wees, dan gee jy vir Hom die geleentheid om jou weer op te lig. Dan gee jy vir Hom die geleentheid om die gees van vrees waaraan jy so onbewustelik gebroei het, weer weg te vat. En DIT ervaar ek, om minder bang te wees, help jou dan om weer makliker positief te kan wees.

Ek was baie bekommerd die laaste tyd oor n paar groter uitdagings in my herstelproses. En hoe meer bekommerd ek geraak het, hoe banger het ek geraak dat dit wat ek vrees, wel bewaarheid gaan word. En hoe meer het ek dit probeer beheer. En hoe meer het ek natuurlik UIT beheer gevoel. ‘n Bose kringloop waarin ons ingetrek raak sonder dat ons dit mooi besef, né. So dag of wat terug het ek egter besef (en ek weet dat dit Hy is wat daardie besef by my tuisgebring het, want ek was heeltemal te gepreokkupeerd gewees om dit self te besef), dat ek nie eintlik nou die luxury het om moedeloos te raak of negatief te wees of vol vrese te raak nie. Ek moet nou juis elke stuk energie gebruik om hierdie ding te tackle. Ek moet al my energie gebruik om te herstel. Ek moet nie my energie letterlik mors op moedeloos voel en bang wees nie. Ek moet my energie gebruik om weereens oor te gee, elke dag oor te gee met elke stuk vrees en elke stuk bekommernis, sodat Hy beheer kan vat. Want wanneer ek beheer probeer vat om dinge uit te sorteer waaroor ek geen beheer het nie, dan ploeter ek eintlik net rond en ontneem ek Hom daarvan om my gebede te beantwoord. Te beantwoord volgens Sy Wil vir my lewe. En ontneem ek myself om iets te hê waarna ek kan uitsien, om n verwagting te hê. 

Indien jy dalk vandag moedeloos of negatief of bang voel, probeer saam met my om daardie besluit te neem om jouself nie vir te lank die luxury toe te laat van opgee of ingee of nie hard werk aan iets nie. Ons – ek en jy – HET dit binne-in onsself om op te staan. Ons HET dit binne-in onsself om te besef dat wanneer ons redelik plat lê, moet ons slegs in een rigting kyk:  op, boontoe. En eers dan kry ons dit weer reg om verby ons omstandighede en verby ons vrese en verby onsself te kan kyk. En dan kan ons opstaan en vorentoe kyk. 

Ek gaan nie meer moedeloos voel omdat ek letterlik so baie plat moet lê die laaste tyd nie – nee, ek gaan dit juis gebruik om weer net op te kyk, want dit is werklik die enigste manier van kyk om sodoende weer vorentoe toe te kan kyk. 

In 2 Timoteus 1:7 lees ons tereg dat God nie aan Sy kinders n gees van vreesagtigheid of lafhartigheid gegee het nie. Die gees in ons is een van krag, liefde en selfbeheersing. 

Groete
Janine

info@themustardseedwithin.co.za
083 634 8020
https://themustardseedwithin.co.za/

#vrees #geesvanvrees #krag #motivering #vertroue #oorgawe