Ek kry gereeld mense wat vir my vra of ek dink daar is iets ergers as om jou sig te verloor. En altyd kom dieselfde gedagte dan by my op: Ja, daar is iets erger as om jou sig te verloor. Dit is erger wanneer jy sig het, maar geen visie nie.
Ek het my sig verloor toe ek 23 jaar oud was – ja, op daardie stadium het ek sowaar gedink dat daar niks maar niks erger in die lewe is nie. Ek was egter so verkeerd gewees! Dit het my jare geneem, maar vandat ek besef het dat ek slegs my sig verloor het en nie my visie ook nie, het my fokus verander. En daardie besef het ongelooflik baie waarde vir my ingehou. Vandag probeer ek daarop fokus, om visie te kan hê. Visie vir my lewe, visie vir die toekoms.

Ek het so n ruk terug n nuwe kliënt in my kantoor gesien, n pragtige ouer vrou. Toe sy instap, het ek vir haar gevra of sy gemaklik is daarmee dat ek blind is, want ek kon agterkom dat sy nie bewus was daarvan nie. Dit moet ook baie vreemd lyk vir mense as jy jou groot labrador werk toe neem en sowaar nog n bed en duvet ook vir die hond in jou kantoor het! Wel, die tannie het toe vir my n baie mooi ding gesê. Net nadat ek vir haar gesê het dat ek blind is, het sy gesê: ‘O, so jy is een van daardie mense wat met jou hart sien en nie met jou oë nie’. Ek kan nou nie sê dit was n kompliment vir my spesifiek gewees nie, want sy het my nog nie eers geken nie, maar dit was n kompliment vir blindes in die algemeen. En dan maak ek mos nou daardie kompliment my eie!

Net so belangrik soos wat dit is om steeds visie te hê, al het jy jou sig verloor, net so belangrik is dit om altyd met n mens se hart te sien, al het jy wel siende oë, né?

Het jy visie vir jou lewe? En sien jy met jou hart? Hierdie is 2 vrae wat ek myself ook gereeld afvra. Sonder visie, ploeter ons soms maar net voort, van een dag tot die volgende. Visie maak ons gedrewe, gee ons hoop. Visie wys vir ons waarheen ons oppad is. En wanneer jy daarin slaag om met jou hart te kyk terwyl jy op daardie pad is, sal jy sien dat daar nie slegs steil opdraendes en growwe klippe is nie, maar ook n pragtige natuurskoon rondom jou.

Is daar iets ergers as om jou sig te verloor? Ja!! Dit is erger om jou visie te verloor. Dit is erger wanneer jy steeds jou sig het, maar geen visie nie!

Groete.
Janine