Dit is nie altyd maklik om God net eenvoudig te vertrou met die plan wat Hy vir ons lewens het nie, né? Ons gee ons laste en ons sorge vir Hom, maar hardloop sommer gou-gou weer terug om dit te gaan haal, net vir ‘incase’ Hy nie weet wat om daarmee te doen nie. Ek is ‘n sprekende voorbeeld van ‘n mens wat daagliks moet oorgee omdat ek so gereeld weer probeer om dit SELF te hanteer. Net om maar weer telkemale tot die besef te kom dat ek dit nie self KAN doen nie. Al wil ek soms. Al wil ek sekere tye dit self doen wanneer ek half kwaaierig dink dat Sy tyd alweer nie my tyd is nie.

Natuurlik weet ek dat God ‘n volmaakte plan vir my lewe het. Soms wanneer dinge egter moeilik raak, is dit net regtig moeilik om daardie wete te leef, te glo dat daar n volmaakte plan is, né? Dan wil ons beheer begin vat, dinge self hanteer, nie laat gaan nie, want wat dan? Om hierdie vraag vir myself te antwoord, het ek die volgende geskryf sodat ek gereeld daarna kan kyk:

  • Om God se plan vir my lewe te vertrou, beteken nie dat ek nooit gaan huil nie, dit beteken slegs dat my trane nie vir altyd aanhou nie.
  • Om God se plan vir my lewe te vertrou, beteken nie dat ek nooit ‘waarom’ vra nie; dit beteken dat ek saam met die waarom vraag ook ‘waarnatoe’ moet vra.
  • Om God se plan vir my lewe te vertrou, beteken nie dat ek nooit moedeloos gaan raak nie; dit beteken slegs dat ek mens genoeg is om my moedeloosheid raak te sien en te weet van Wie ek my troos en my krag kry.
  • Om God se plan vir my lewe te vertrou, beteken nie dat ek ‘n perfekte lewe moet leef nie; dit beteken slegs dat ek in my onvolmaaktheid die volmaakte plan vir my lewe moet kan glo en kan raaksien.
  • Om God se plan vir my lewe te vertrou, beteken nie dat ek nooit twyfel nie; dit beteken slegs dat ek sekerheid kan hê dat my twyfel volgens Sy Wil sal geskied en dat Hy my elke keer weer sekerheid sal gee.
  • Om God se plan vir my lewe te vertrou, beteken nie dat ek nooit swaar gaan dra nie; dit beteken dat Hy vir my die rus sal gee wanneer ek te moeg is om verder te dra.
  • Om God se plan vir my lewe te vertrou, beteken nie dat ek al die antwoorde het nie; dit beteken slegs dat die Een wat al die antwoorde het, wel elke treë saam met my stap.

Ja, dit is nie altyd maklik om die Here te vertrou nie, veral nie wanneer dinge nie glad en maklik verloop nie. Wanneer dinge erger as kop-af en holderstebolder in jou lewe voel. Dit is nie so maklik om net oor te gee sonder om weer terug te vat om dit maar self verder te hanteer nie.

Baie sterkte vir jou wat ‘n stryd stry met watter uitdaging ookal in jou lewe. Moenie te hard op jouself wees nie. Jy is net ‘n mens, en beslis nie die enigste mens wat soms twyfel of alles wel ten goede sal uitwerk soos wat Hy beloof het nie. Mag ons mekaar as mense ondersteun in ons swaarkry-dae.
As jy dalk hierdie boodskap gelees het, dink aan net 1 persoon wat jy ken wat dalk met geboë skouers stap op die oomblik. Stuur n boodskap vir daardie persoon, want dit is dalk presies wat hy/sy nodig het om vandag weer te kan vertrou. Of share hierdie stukkie met daardie persoon, maar doen net iets, enige iets, om daardie persoon te help om die lewe verder in die oē te kyk. Ons het mekaar nodig om te kan glo dat Die Here n volmaakte plan vir elkeen van ons se lewens het. Ons het mekaar nodig om te volhard en te kan glo dat teëspoed nie vir altyd aanhou nie.

Jer. 29:11
‘Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

n Mooi dag verder vir julle!
Groete.
Janine