Hierdie is nie net n ‘random’ storie van n gidshond doer ver nie. Hierdie is n ware storie van MY gidshond Pippa. Julle het haar al in die videos ontmoet – die
beste este gidshond ooit, maar ook die ondeundste gidshond ooit. Ek is egter so vrek lief vir haar net soos wat sy is.

So n week voor Kersfees het Pippa egter besluit dat sy nie meer kan wag vir oujaar nie. En sy het lelik uitgehaak om die minste te sê. Nou kyk, Pippa is bekend daarvoor dat sy soos enige tipiese labrador kos as n prioriteit beskou. N GROOT prioriteit, tot so n mate dat sy die kuns verfyn het om enige iets wat eetbaar en oneetbaar is, uit te snuffel en kaf te draf. Ja, asblikke-grawe indien dit beskikbaar is, is een van haar gunsteling tydverdrywe. In ons huis is almal dus gewoond daaraan om nooit enige iets enige plek te laat le nie, want ek sê nou vir julle, sy snuffel reuklose sweaties uit n geseëlde pak uit! En dan is sy boonop so trots op haarself, los altyd die ‘evidence’ vir ons op haar bed. Hoe meer ‘evidence’ sy kan los, hoe meer suksesvol beskou sy haar dag.

Verveeldheid, dit is die groot rede vir Pippa agter letterlik rondloop vir kwaadgeld in die huis. Pippa is slim, baaaie slim, sy is mos nou ‘by all means’ n glorified labrador, het haar gidshondopleiding sommer maklik ‘cum laude’ geslaag. Pippa is selfs slimmer as ons al 4 saam in hierdie huis, want sy kry dit reg om ons gereeld ore aan te sit. En nee, sy is nie mededeelsaam as dit by die gaps van kos-en-sweaties-en-chips-en-chocolates kom nie. Ons scottish terrier loop soos n stertjie agter haar aan, maar hy het nog glad nie die kuns bemeester om saam met Pippa te begin gaps nie. Hy kyk maar net ewe gedweë hoe stoutgeit lyk. En hy ‘split’ nie eers op haar nie, wat n vb van n beste vriend is hy nie!

Nou ja, soos ek genoem het, het Pippa sonder toestemming natuurlik, besluit om n vroeë oujaar te hou, sy het eenvoudig op daardie stadium genoeg van 2021 gehad. So sy het haar ‘game ge-up’ deur nie slegs eetgoed te gaps nie. Sy het n 3 liter boksie wyn ge-eye en op n Saterdagoggend 9 uur besluit die vliegtuig is oor …

Het julle al n dronk hond gesien?? Dit is n erger en snaakser gesig as n dronk mens! Sy het in alles vasgeloop, haar draaie te kort gevat en teen die deurkosyne vasgeloop, haar balans was ‘totally off’ en sy het elke tien treë neergeslat. En weer opgestaan en die proses herhaal. Met hierdie veraf uitdrukking in haar oë. Hoe het ons geweet sy het skelm gedrink? Die evidence was op haar bed en ons hele kamer (waar haar bed is) het soos n sjebien wat dae laas skoongemaak is geruik!!

Die kinders het geskree soos hulle lag, ek het dadelik n dubbeldosis urbanol gegryp vir n paniekaanval wat gedreig het om oor te neem en my man het op die foon geklim veearts toe. Want wat maak jy met n dronk gidshond? Laat jy haar, haar roes afslaap of pomp jy haar maag of blaas of whatever leeg? Wat gaan ek vir die Gidshondvereniging sê?? Alkoholvergiftiging? Dat my gidshond haar doodgedrink het?! O weë julle, die gedagtes wat deur my kop gegaan het, was n storie op sy eie.

En terwyl Pippa in haar dronkenskap was, het sy al die pad ‘gesmile’, sy was baaaie happy. Ek vermoed n hele nuwe wêreld het vir haar oopgegaan! Ekself was egter op daardie stadium besig om te isoleer van my gesin omdat ek covid positief was, ek kon nie heeltyd haar dronkpaadjies deur die huis saamstap nie. Ek moes in die sjebien bly!! Waar haar bed se kussing gelukkig deurtrek was met bokswyn en vir elke milliliter wat op haar bed gelê het, het ek gejuig, want dit het beteken dat dit nie by haar keelgat af is nie!

Wel, Pippa het die volgende 2 dae haar roes afgeslaap en ek het n sterk vermoede dat sy met die hoofpyn van hoofpyne gesit het.
Let wel vir die van julle wat dink dat ek my gidshond aan haar dronkenskap lot oorgelaat het: die veearts was gebel en was betrokke. Die van julle wat egter kontakte het in die Gidshondvereniging, stuur asb vir my jul bankbesonderhede, ek is bereid om ‘illegal’ te gaan om my dierbare gidshond te behou …

Ons oujaar het baie stil verloop, geen drank was betrokke nie, nie eers by die wie veronderstel is om n glasie wyn te geniet nie. Ons ondersteun nou vir Pippa volkome in haar rehabilitasieproses, geen drank op hierdie stadium in die Vorster-huishouding nie!

Groete van myself en n sober gidshond