Hormonaal onstabiel!!

Die woord menopause klink so grênd. So asof dit ‘n fênsie siekte is waarmee jy gediagnoseer word. Ek sou eerder sê dat die woorde hormonaal onstabiel dit veel beter beskryf. Sal my nie verbaas as dit ‘n manlike dokter is wat die term menopause uitgedink het nie. Want vrouens wat dit kry sal weet dat daar niks glamorous daaraan is nie. En dit is ook hierdie selfde manlike dokters wat gewoonlik vir jou sê dat dit maar normaal is. Normaal??? Jy sê nie vir ‘n gebrek-aan-hormone-vrou dat dit wat sy beleef normaal is nie!! Jy bevind jouself dan onmiddellik in ‘n uiterste gevaarsone met so ‘n onverantwoordelike uitlating – gegewe die normaliteit van die geestestoestand van die hormonale vrou wat aan die anderkant van jou grênd dokterslessenaar sit …

Nee vrek julle, menopause is nie vir die sissies onder ons sussies nie. En ongelukkig kry alle sussies dit een of ander tyd. Menopause laat my altyd dink aan daardie ding wat ons gedoen het toe ons nog nie kinders gehad het nie. Ons het mos dan gereeld neus-in-die-lug gedink dat MY kinders nie eendag dit of dat gaan doen nie. Verrassing!! Toe doen hulle dit, né? En erger … Ja, dit het ons nederig gehou, ook maar goed so. Menopause dink ek werk ook so. Die van julle wat nog ouderdom aan julle kant het, dink ook dalk dat jy vir altyd gaan regkry om die ou vetjies maklik af te skud, dat jy dit altyd gaan regkry om sag en beheersd met jou kinders om te gaan, dat jy dit altyd gaan regkry om met ‘n sagmoedige kopknip almal in die lang tou van die bank te groet. Toe nie!! Kyk, menopause laat woorde by jou mond uitkom wat jy nie geweet het jy hardop KAN sê nie. Menopause laat jou kos by jou mond inprop wat jy nie eers geweet het jy van hou nie. Menopause laat jou lyf verander dat dit nie meer soos jou lyf lyk nie. Dit veroorsaak sommer ‘n total personality change sommige dae! Dit maak die beste en mees statige van vrouens bemoerd (skuus ek het mos nou net gesê van die woorde wat by jou mond uitkom) en laat hulle terselfdertyd meer snot as trane huil oor hulle hondjies wat dood is toe hulle klein was, maar dis ook dieselfde hondjies wat hulle eintlik nooit as kinders besit het nie. Eintlik moes ek ‘n video hieroor gedoen het, want geen gepaste woorde is eintlik hier beskrywend genoeg nie, die gesigsuitdrukkings sou dit egter goed kon saamvat …

Menopause is nie ‘n grasieuse en geleidelike beweging van punt A na punt B nie. Vir die van julle wat dit dalk nie weet nie, wanneer jy sekere chemobehandeling kry smyt dit jou onmiddellik in menopause in. Ja, ek kies om te sê smyt. Vinnig, hard, ongenaakbaar. En wanneer jy enige vrou smyt van een plek tot by die volgende, dan duik sy in die stof en gee sy ‘n paar ongeoefende bollemakiesies, maar ou matie, bewaar jou die oomblik wanneer sy weer op haar menopousale voete land! Dan moes jy lankal begin hol het!

Indien jy een van die gelukkige vrouens is wat menopause heeltemal ‘geskip’ het – ek gun jou dit!!
Indien jy een van die vrouens is wat menopause grasieus tegemoet gestap het en met ‘n koninklike wuif begroet
het – leer ons ander asb HOE!!
Indien jy een van die vrouens is wat onvoorbereid kop eerste in menopause geduik het – oefen daai bollemakiesies sodat jy tog net weer op jou voete land!
Indien jy een van die vrouens is wat aan jou been in die modder rondgesleep word deur menopause – jy gaan nie wen nie, gee maar die ander been ook!
Indien jy een van die vrouens is vir wie menopause al hoe nader wink – sterkte suster!!
Indien jy nog ver van menopause af is – hou eerder jou mond en begin bid!!
En indien jy ‘n man is wat hierdie lees – moenie eers daaraan dink om weg te hol nie. Dit is jou nie beskore nie. Dit word nie verniet MENoPAUSE genoem nie. Pause en stilstaan sal jy maar moet stilstaan swaer en die houe vat wat van jou hormonale vrou na jou toe geslinger word – dit is die minste wat jy vir jou eens liewe vroutjie kan doen!

Cheers op menopause julle! Ek drink sommer ‘n sluk so direk uit die wynbottel uit …

Janine