Het jy vandag al gelag? Was daar op hierdie Dinsdag wat soos ‘n Maandag voel al iets wat die moeite werd was om oor te lag? Dink net bietjie julle, hoeveel dae gaan daar nie verby sonder dat ons gelag het nie. Ja, as ‘n mens nie lekker voel nie of jy kry dalk swaar of jou hart is seer, is jy nou werklik nie lus om te lag nie, ek bezef dit maar al te goed. Maar ons het dit nodig! Ek het dit nodig! En jy het dit nodig! Weet julle dat lag meeste van die tyd ‘n keuse is? Dit is ‘n keuse wat jy daagliks in jou kop moet maak. Lag en humor is nie altyd iets wat sommer net deel van jou elke-dag-se-lewe is nie. Ek en jy moet kies om te lag, ons moet kies om humor raak te sien en dit deel van ons lewens te maak. En vandag wil ek dit kies, moet ek dit kies, my eie lip het vir te lank nou na onder toe getrek en op die grond agterna gesleep.

Ek daag jou vandag uit, wees JY die rede vir iemand anders se glimlag. Wees JY die rede vir iemand anders om ’ligter’ te voel, al is dit dan nou ook net vir ‘n paar sekondes. Doen dit sommer nou!

Hier is my stukkie ‘ligter’ vir julle vir vandag, hopelik laat dit jou glimlag:
Het jy al gehoor van die blinde wat sy gidshond in Pick & Pay aan sy leiband rondgeswaai het? Die geskokte winkelassistent vra vir die blinde: Wat maak jy?? Die blinde sê: Ek kyk net ‘n bietjie rond … 🤣

Hoe weet ‘n blinde valskermspringer wanneer om sy valskerm oop te maak? Wanneer sy gidshond se tou slap raak …😳🤪

En vir die van julle wat nie van my ‘donker humor’ hou nie, iets nog ligter:

2 Ouens het ‘n kalender gesteel – hulle het elkeen 6 maande gekry 😂

Wat noem jy ‘n hasie in die Spur?
‘n inspir(h)asie
Wat noem jy ‘n geel hasie? n Kasie
Hoe gaan dit? Hasie klagtes nie 🤣

Nou ja julle, hasie klagtes nie, hoop jy kry dit reg om vandag ietsie kleins in jou dag raak te sien om oor te glimlag. Jy het dit net so nodig soos ek!

Groete vir julle.
Janine