Ek dink elkeen van ons het al iewers in ons lewens (of telkemale) nodig gehad om iemand te vergewe. Om iemand te vergewe wanneer hulle dalk vergeet om jou te bel of iets vir jou te doen – daardie een is mos nou nie so moeilik nie (soms is ek bly dat ander mense ook sulke goed vergeet, dit laat my minder skuldig voel oor alles wat EK vergeet!). Om iemand egter te vergewe wanneer jou hart seerkry, wanneer jou hart werklik skaaf en stukkend sny – daardie een is nie altyd so maklik nie, né?

Ek het altyd gewonder hoe ek iemand vergewe wat kies om my seer te maak? Dit het my eintlik lank gevat om te verstaan – werklik te verstaan – wat dit presies beteken om iemand te vergewe. Na baie rondsoek-in-my-siel-en-oordink het ek besef dat vergifnis nie beteken dat jy iemand anders se gedrag verskoon of selfs moet aanvaar nie. Nee, vergifnis beteken om dit te laat gaan. Om dit te laat gaan vir jouself. Nie om die ander persoon heeltyd te probeer oortuig dat jy seerkry as gevolg van sy dade of in baie gevalle sy gebrek aan dade nie. Vergifnis beteken om seker te maak dat iemand anders se gedrag of gebrek aan gedrag nie jou hart vernietig nie.

Ons harte is delikaat en bloei maklik. My man sê gewoonlik ons scottish terrier hondjie byt bloed as hy kwaad raak. Nou ja, net so bloei ons harte ook bloed wanneer dit gebyt word deur iemand anders se dade of woorde. En dit maak seer. Baie seer. Ek dink God verwag van ons om ons harte op te pas, dit veilig te hou, dit te bewaar teen bloed bloei ‘so to speak’ daar waar dit vir ons moontlik is. Vergewe indien moontlik, laat gaan waar nodig, doen dit vir JOU. Jy verdien meer as dat iemand anders die mag moet hê om jou hart te vernietig. Ons lewe in so ‘n wrede en moeilike wêreld en daar is soveel dinge waaroor ons werklik geen beheer het nie; vat dus beheer van dit waarvan jy wel beheer kan vat: Moenie iemand anders toelaat om jou hart te laat bloei nie; vergewe hom/haar vir die bloedspatsels wat hulle reeds veroorsaak het en laat dit dan gaan. Laat dit gaan vir JOU!

Mag elkeen van julle wat nodig het om iets of ‘ietse’ of iemand of ‘iemande’ te laat gaan, die krag en genade ontvang om dit reg te kry. DIT is vergifnis en dit is bevrydend!

Groete.
Janine