Ja, jy wat nou hier lees!

Ons beperk onsself so maklik met die persepsie wat ons in ons gedagtes van onsself het. Ons strem onsself hier in ons kop en is dit nie maar wat ‘n gestremdheid is nie? Ons moet ons persepsie verander, die manier hoe ons na onsself en na dinge kyk. Hoeveel dae is daar wat jy nie in jouself glo nie. Hoeveel kere sê ons nie: Nee ek kan regtig nie dit of dat doen nie. Hoe seker is jy? Hoeveel keer het jy al probeer?

Die van julle wat hierdie blad volg, weet nou al dat ek blind is, ek het my sig op die ouderdom van 23 jaar verloor. Was dit erg? Natuurlik was dit erg! Mis ek dit om te sien? Elke dag! Ek mis dit veral om die belangrike dinge te kan sien, die dinge wat jy in jou hart wil bêre, soos jou troue, jou kinders se geboortes, hoe jou kinders lyk, geliefdes se gesigte voordat hulle sterf, ag julle kan mos nou net dink hoeveel dinge daar is.

MAAR. Daar is ander dinge in my lewe wat my baie meer beperk as my blindheid. My fisiese gestremdheid is nie soseer my grootste uitdaging in die lewe nie. Die manier hoe jy oor jouself dink, die manier hoe jy oor jou ‘capabilities’ en jou ‘disabilities’ dink, DIT is die bepalende deel van gestremdheid. Want, fisiese gestremdheid sit nie in jou bene as jy nie kan loop nie, of in jou oë as jy nie kan sien nie. Fisiese gestremdheid sit in jou kop. In jou denke.
Het blindheid my ontneem van die belangrike dinge in die lewe, die prentjies wat ek in my hart wil bêre? Nee, dit het nie. Dit is wel ‘n groot verlies dat ek nie my troue, of my kinders se geboortes, of die eerstes van alles, kon sien nie, maar ek het dit mos steeds beleef. Ek was steeds daar, stukkende oë en al.

Het blindheid my minder van ‘n vrou gemaak? Nee, dit het nie. Het dit van my ‘n slegter ma gemaak? Nee, dit het nie. Of altans, ek hoop nie dit het nie. Op ‘n hormonale en katastrofiese kwaai dag sal my kinders dalk van my verskil op hierdie punt …. 🤣
Blindheid het eintlik van my MEER mens gemaak, MEER vrou, MEER ma. Want dit het my geleer om nie met my oë te kyk nie, maar met my hart. En dit, ja DIT het ‘n groot fokus-verskil in my lewe gemaak.

Moenie jouself beperk nie. Let daarop, want ons doen dit onbewustelik. Doen daardie ding wat jy nog altyd wou doen, maar nie gedink het jy kan nie. Begin om anders te dink oor jou ‘capabilities’. Moenie jouself ’disable’ met hoe jy oor jouself dink het. Moenie jou ‘capabilities’ in ‘disabilities’ verander nie.
Onthou, jy het nie net denke nie, jy IS wat jy dink. Jy WORD wat jy dink!!

Nou ja, van een gestremde aan ‘n klomp ander gestremdes – geniet die res van jou hopelik nie-gestremde dag.

Groete.
Janine