Hoe wens ek nie partykeer dat HOOP ‘n mens was wat ek kon ontmoet nie. As ek HOOP sou raakloop, sou ek hom gevra het: “Hoe hanteer jy dit? Hoe op dees aarde is JY hoop? En kan jy dit dan vir my ook gee? Want ekke het sommer ‘n lang Spar-lysie vol versoeke vir hoop. Kan ek dit asb met jou bespreek? Kom ons gaan sit sommer gou-gou by Mugg en Bean, dis op my, toe.”

As ek egter weer stil raak in my binneste, dan besef ek dat ek wel ook HOOP is. Dat ek ook met daardie naam geskape is, want HOOP is die Here hier binne-in my. Hy is my Hoop, die Lig wat alles verhelder, wat my lei deur die donker as ek letterlik soos ‘n blinde loop en soek na ‘n witkierie of enige iets wat my kan help, sodat ek net my pad kan vind.

In my lewe moes ek leer dat Hy my Lig is (letterlik en figuurlik) en dat daardie Lig soveel helderder skyn as wat my eie hoop kan skyn. Daardie Lig gee my soveel meer as wat net die woord ‘hoop’ my kan gee. God se belofte van lig is eenvoudig soveel meer as net hoop. Die Here belowe om ons ewige lig te wees, en daardie lig omarm alles – alle seerkry, moedeloosheid, uitdagings, geliefdes se afsterwes, noem maar op.

Mag jy vandag ook bewus wees van die Lig in jou lewe wat jou hoop gee. Dan hoef ons nie te wens om HOOP iewers in die dorp raak te loop nie; nee, dan weet ons dat HOOP binne-in ons lewe.

Ek doen sommer ‘n ‘backflip’ van opgewondenheid wanneer ek hierdie besef, maar … dan gaan ek meer as hoop nodig he om my weer van die grond af op te lig … haha.

Groete.
Janine