Goedhartigheid is n eienskap wat dowes kan hoor en blindes kan sien!

God het geweet dat goedhartigheid só baie in mense se lewens sal beteken. Daarom is dit ook n vrug van die Heilige Gees.

Ek het al baie goedhartigheid in my lewe ervaar. Dit is iets wat my al so baie kere hoop gegee het. Hoop dat die lewe en die wêreld waarin ons lewe nie net sleg of moeilik of wreed is nie. Daar is nog soveel mense met goeie harte rondom ons. Is jy ook een van daardie mense? Iemand wat omgee wys, liefde gee, die ekstra myl vir n ander loop, goed is vir n ander. Dit is so lekker as ander mense n goeie hart vir ons wys. Maar onthou ons om altyd n goeie hart vir ander te wys? Eintlik is dit so maklik, né? En tog kry ons dit nie altyd reg nie.

Elke mens het n storie. N geskiedenis. N agtergrond. En daarom moet ons onthou dat ons goedhartigheid deel van n ander se toekoms kan wees. Dat ons goedhartigheid van vandag en more help skryf aan n storie wat op n stadium iemand se verlede kan definieer. Positief kan definieer.

Goedhartigheid is nie slegs n eienskap nie, dit is n leefwyse wat elke een van ons kan aanleer. Dink bietjie aan iemand anders se goedhartigheid in jou lewe en presies hoeveel dit vir jou beteken het. En gaan doen dit dan vir iemand anders, gaan wys vir iemand anders wat goedhartigheid beteken.

Baie dankie aan elkeen, so baie mense daar buite, wat al goedhartigheid teenoor my betoon het – dit is werklik n eienskap wat my blinde oë kan sien!! Wat n groot genade is dit nie.

Galasiërs 5:22-23
‘Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing’