Ek spandeer baie tyd in ’n vistenk. Ek en Pippa (my gidshond). Nie saam met visse nie. Saam met ‘n suster. n Verpleegsuster. Menigmale saam met ‘n suster wie se passie dit is om daar te wees. So dankbaar vir hulle dan!! Sommige kere saam met ‘n suster wat werklik, so blyk dit, nie altyd lus is om daar te wees nie. (Ons almal wil mos maar sekere dae nie by die werk wees nie, so ek neem haar nie kwalik nie)
Hierdie vistenk is gereeld my tuiste in die hoësorgeenheid van ‘n hospitaal in Johannesburg. Daar is mos gewoonlik sulke glashokke in die High Care Units sodat die suster wat na jou kyk sommer so van buite af kan sien of jy darem nog asemhaal. Of al die draadjies nog gekoppel is op jou lyf sodat die lesings op die monitor dopgehou kan word. Dit is terselfdertyd gerusstellend dat daar heeltyd personeel is wat jou bloeddruk, jou suurstofvlakke en jou harklop monitor; dit is egter ook erg irriterend wanneer jy die hele tyd na al die glashokke rondom jou se monitors se gebiep moet luister. Net so irriterend is dit om daardie vleiende hospitaaljakkies heeltyd te moet dra. Daardie jassies maak dit egter soveel makliker vir die personeel om met jou lyf en op jou lyf vinnig te kan werk wanneer nodig. ‘n Eentonige gebiep van monitors beteken ook gewoonlik dat daar lewe is in elke vistenk.

Klokke wat lui wanneer iemand in ‘n vistenk se monitor flatline, beteken egter n groot skrik vir al die pasiënte rondom daardie spesifieke glashok, ‘n geskarrel van verpleegpersoneel waar almal soos een man saamstaan in een vistenk om daardie pasiënt te help, om dokters te bel, opdragte uit te skreeu. En jy weet dat jy nie die enigste een in ‘n vistenk is wat besef dat hierdie nou sopas in jou eie tenk kon gebeur het nie. Jy hoor dadelik op jou monitor hoe jou hartklop styg, en jy hoor aan die duideliker gebiep van ander glashokke se monitors dat al die pasiënte se vitals op gevaar reageer. Die ‘dingetjie op jou vinger’ wat jou suurstofvlak meet sê vir jou monitor dat jy nie reg asemhaal nie. En jy besef dat jy van skrik jou asem opgehou het. En jy dink aan die familie van daardie pasiënt in die vistenk, die familie wat enige oomblik daar gaan instap, soms instorm. Geskok en ontsteld en emosioneel. En jou vistenk se glaspanele demp nie die geluide wat uit daardie vistenk kom nie.

En dan, amper asof dit vooraf afgespreek is, daar daal ‘n stilte neer in al die glashokke, ‘n stilte van stille respek vir ‘n pasiënt wie se vistenk binnekort gevul gaan word met ‘n ander pasiēnt wat uit teater gestoot word. En jy weet dan, dan gaan die gebeure rondom jou weer voortgaan so asof daardie pasiënt wat gesterf het, nooit daar was nie. Versorging van pasiēnte gaan weer voort, monitors se gebiep gaan voort, etes word bedien, alles back to normal in High Care. Maar jy, en jy weet die ander pasiënte ook, lê daar met ‘n dieper besef. ‘n Besef van die dun skeidslyn tussen lewe en dood.

My vistenk is die rede vir my oorlewing. Dit is waar ek behandeling kry, dis waar ek versorg word na elke operasie wat gedoen moet word, dis waar ek bly wanneer Pathcare bevind dat my huis en my werk vir eers nie goed genoeg vir my gesondheid is nie. Soms swem ek en Pippa relatief gemaklik rond daar binne. Soms spartel ons maar en is dit of die spasie rondom ons al hoe kleiner word en die suurstof so bietjie dun raak.

My vistenk is waar ek God op die diepste vlak moontlik ontmoet, want meeste van die tyd, is dit net ek en Hy daar binne. Meeste van die tyd is dit net ek en my gedagtes – en God. My vistenk is waar ek besef presies HOE afhanklik ek van Hom is. My vistenk is waar ek besef waaroor die lewe werklik gaan. My vistenk is waar ek besef WAT werklik belangrik is, in hierdie lewe EN in die lewe hierna. Wat ewigheidswaarde het. My vistenk is waar ek besef dat werkstatus, velkleur, jou finansiële status, absoluut geen verskil maak nie. Almal is gelyk. Elke keer is daar ander pasiënte saam met my, elkeen in hul eie vistenk. En of jy nou ‘n belangrike bestuurder van n groot maatskappy of ‘n skoonmaker is, jy is gelyk met elke ander pasiënt. Jou vistenk is nie belangriker as ‘n ander ou s’n nie.

Elke keer is dit vir sommige van die pasiënte rondom my, hul laaste skof van hul lewe op aarde. En dit, DIT maak my ook elke keer bewus daarvan dat dit ook my laaste skof kan wees. Maar dit is goed, daardie besef. Dit is goed dat ons gekonfronteer word daarmee.

My vistenk is die plek wat al baie trane laat loop het. Trane van lyfseer, trane van moedeloosheid en naby-aan-opgee-trane. Maar so ook trane van intense dankbaarheid. Want keer op keer word ek die geleentheid gegun om by daardie vistenk uit te stap, terwyl ander daar moet agterbly, en sommige nie weer die kans gegun word om daar uit te stap nie. Wat ‘n voorreg het ek nie om dit steeds te kry nie. Wat ‘n voorreg het ek nie om soveel kanse gegun te word nie – dit alles onverdiend.

Waar is jou vistenk? Waar ontmoet jy vir God op ‘n vlak wat so bietjie verwyderd is van jou elke-dag-se-tree-voor-die-ander-sit-lewe? Waar kom jy tot die besef dat jou lewe op aarde nou, op hierdie oomblik, dalk kan stop? Waar kom jy tot die besef dat jy niks belangriker is as ‘n ander nie. Waar is die plek waar jy letterlik gestroop word van alle pretensie, van alle nie-belangrike-dinge.

WAAR is jou vistenk waar jy besef dat jy van God, alleenlik van God, afhanklik is? Dit is werklik nogal die moeite werd om hieroor na te dink …

Groete.
Janine