Daar is een ding wat ek vandag so seker as verseker weet:
Dit is met genade dat ek tot hier gekom het en dit is deur genade dat ek sal aanhou. Besef jy HOE groot genade kan wees? Ek deel vandag sommer weer ‘n paar stukke genade uit my eie lewe met julle:

Genade is as jy blind word, maar op ‘n dag besef jy dat jy meer visie het as wat jy gehad het toe jy sig gehad het.
Genade is as jy met outo immuunsiektes gediagnoseer word en jy begin dan eers werklik die waarde van lewe te besef en te leef.
Genade is as ‘n klomp lewensveranderende operasies jou lyf misvorm, maar jy besef dat daar volmaaktheid is juis in daardie misvorming.
Genade is as jy familie het wat steeds lief bly vir jou en omgee selfs wanneer jy nie daar kan wees vir hulle nie.
Genade is as jy vriende het wat spring wanneer jy jou vingers in nood klap.
Genade is as jy vriende het wat spring selfs al klap jy nie jou vingers nie!
Genade is as jy met BRCA positiewe borskanker gediagnoseer word en jy besef dat jy kanker het, maar kanker het jou nie.
Genade is as jy `tevrede is met dit wat jy nie meer het nie en nooit weer sal terugkry nie.
Genade is om keer op keer uit ‘n hospitaal te stap, terwyl jy besef dat daar ‘n baie dun skeidslyn tussen lewe en dood was.
Genade is wanneer jy besef dat jy elke dag met jou kinders kan praat, al is dit net oor die foon; baie mense het nie meer daardie voorreg nie.
Genade is as jy nog ‘n pa en ‘n broer het op aarde al wag die res reeds in die hemel.
Genade is wanneer jou man die vermoe het om die lewe te laat aangaan, so asof alles normaal is.
Genade is wanneer jou man jou laat lag vir sy simpel grappies, terwyl jy eintlik lus was om te huil.
Genade is wanneer jou yskas en vrieskas vol is van kos vir daardie tye wanneer jy nie self die krag het om kos te maak nie.
Genade is om te kan opstaan soggens al wil jou lyf gestoot en getrek word; soveel mense kan glad nie meer opstaan nie.
Genade is wanneer jou lyf so pyn en jou kop so dof is dat die hele dag om en dom voel, maar aan die einde van die dag weet jy dat jy dit gemaak het – gemaak het deur genade.
Genade is wanneer jy werk toe kan gaan, al weet jy nie hoe jy dit gaan doen nie.
Genade is wanneer omgee, liefde, ander mense se menswees, ‘n mens se arms hoog hou.
Genade is verseker genade!

GENADE IS OM TE GETUIG VAN GOD SE GROOT GENADE IN MY LEWE!

Ek hoop dat jy ook vandag ‘n stuk genade in jou lewe sal kan raaksien. Jy sal verbaas wees hoe kragtig die raaksien van Genade kan wees.

Mooi dag vir elkeen van julle.
Janine