Ek het eintlik 2 seuns, maar net een van hulle is vandag 16 jaar oud. Dit voel of ek gister nog met n doekesak oor my skouer gestap het. Ek wil geensins sê dat tyd verby spoed nie, ek wil eerder dankie sê dat ek vir elke oomblik van 16 jaar al die voorreg het om sy mamma te kan wees. Dis n lang tyd! Genadetyd wat ek as ma gegun word met n jongste seun.
Hierdie 16-jarige sal altyd ons genade baba wees. 16 weke van plat lê lyk nou so onbenullig soos 16 sandkorrels in die duine van Namibië.
Wat n groot genade was hy en is hy steeds nie. Hy het hom geensins laat afskrik deur heeltemal te vroeg in kraam gaan, narkoses en klomp antibiotikas nie. Daardie piepklein baba is gesond gebore en is nou na 16 jaar langer as sy ma en langer as die ginekoloog wat steeds van hom as sy wonderwerk baba praat. Wat n voorreg is dit nie om te kan sê dat ek nie slegs letterlik na hom opkyk nie, maar ek kyk ook in verwondering op na hom met hoe hy lewe aanpak. Hy LEWE werklik, elke oomblik van sy 16 jaar. Ten spyte van baie uitdagende omstandighede soms, doen hy alles met soveel vreugde, soveel passie en soveel dryfkrag. Hy weet ook Wie die Een is wat eintlik aan hom lewe geskenk het. Wie die Een is wat hom in staat stel om voluit te kan lewe.
‘Dankie Here, vir die groot genade en voorreg wat ek gehad het om slegs 16 weke te moes opoffer vir 16 jare van vreugde. Ek weet dat U hom aan my leen, gee my daagliks die insig en die wysheid om hom vir U Koninkryk voor te berei. Ek is so dankbaar dat U my gekies het om sy mamma te kan wees. Wat n voorreg!’