Ek het nogal ‘n close-knit verhouding met ‘n wagkamer. ‘n Dokter se wagkamer. Enige -loog se wagkamer. Neuroloog, uroloog, nefroloog, onkoloog, gastroenteroloog, ginekoloog. En vaskulêre chirurg, maar dit rym dan nou nie, vir wat is hy nie ook ‘n -loog nie??
Niks in ‘n wagkamer rym egter ook nie. Niks voel reg nie. Ek wil nie daar wees nie. Ek wag. Wag vir die dokter. Wag vir die uitslae. Wag vir die voorskrif. Wag vir bloedtrek. Wag vir die scan. Wag vir die plan. Die plan van wanneer ek weer in hierdie selfde wagkamer moet sit.

Party wagkamers het teels. Ander het matte (my gidshond verkies hierdie waar sy haar lekker sag kan ingrawe), ander het houtvloere. Party wagkamers het koffie en tee. Ander het nie. Party wagkamers verander elke paar jaar hulle stoele. Ander hou die stoele totdat dit seker letterlik deurgesit is. Party wagkamers het harde stoele, ander het sagte stoele – ek verkies om daardie spesifieke -loog te sien, die wat genoeg geld verdien om die sagte stoele te hê waarin jy so diep wegsak. Jy wil sommer wegsak en net wegraak.

Terwyl jy wag, sit en luister jy na ander se stories van wag. Sit en wonder wat daardie persoon se gewag dalk vir hom inhou? Miskien wag hy vir dieselfde as waarvoor jy wag. Wag vir goeie nuus. Wag vir hoop. En wag om so gou as moontlik daar uit te kom.
En terwyl jy wag, smile jy en maak jy of jy die uitstappie geniet. Want jy weet dat jy volgende week weer hier gaan sit en wag, en jy het die ontvangsdame aan jou kant nodig. So jy wys geen geïrriteerdheid nie. Jy handhaaf kalmte van gemoed. Maar eintlik wil jy dit sommer uitskree: ‘Los my net uit! Ek willie hier weesie!’

Ek wag. Wag vir beter voel. Wag vir gesond raak. Wag vir die dag wat hulle vir my sê: Jy hoef nooit weer hier te kom sit en wag nie. Sal dit nou nie ’nice’ wees van hulle nie? Vir wat kan ek nie sulke ‘nice’ dokters sien nie?
By sommige wagkamers wag jy om te betaal. By ander stel hulle jou gerus dat jou mediese fonds hulle sal betaal. Wat nie altyd gebeur nie. En dan wag jy vir die rekening. En dan betaal jy. Met die geld wat jy nie kon verdien het nie omdat jy jou moes uitboek om te gaan wag in ‘n wagkamer. En so karring jy aan, van een gewag tot en met ‘n volgende gewag. Van ‘n vol beursie tot ‘n leë beursie.
En met elke keer se gewag dink jy wat jy met hierdie tyd kon doen. Hoeveel wagkamers se rekeninge jy kon betaal het as jy hierdie einste wagtyd kon gebruik het om te werk.

Wag wag wag.

MAAR, ek wil ook vir julle sê: As dit nie vir wagkamers was nie, waar sou ek en ook baie van julle tog gewees het? Wat sou ek gedoen het sonder die -loog se kennis en hulp? Sonder die bloedtoetse se uitslae? Sonder die chirurg se mes wat die kanker uitsny? Sonder die gawe en behulpsame ontvangsdames wat my en my gidshond Pippa tuis laat voel in hulle wagkamers? Sonder die skoonmaker wat so vriendelik groet terwyl ons so lank wag? Ek is geseënd om ‘n klomp -loogs te sien met ontvangsdames wat omgee vir my wys, wat dit vir my makliker maak om so gereeld daarheen te moet gaan. Wat ‘good day mrs. Vorster’ op so ‘n innemende manier sê dat dit my laat voel asof sy werk toe gekom het spesiaal om my te sien. Ontvangsdames wat bly is om weer vir Pippa te sien. Ontvangsdames wat ons gerus laat voel te midde van bekommernis. ‘n Gewaggery in ‘n wagkamer beteken ook ‘n tevredenheid, ‘n dankbaarheid dat God die regte mense in wagkamers plaas, spesiaal vir jou. Spesiaal vir my.

Waarvoor wag JY? Jy wat hier lees. Wat gebeur in die wagkamer van jou siel? Wag jy dat dit beter gaan in jou lewe? Wag jy om weer gelukkig te wees? Vandag wil ek graag vir jou sê: Net soos wat dit feitlik onmoontlik is om in ‘n dokter se spreekkamer te wag met die hoop dat hulle vir jou gaan sê dat die dokter jou nie meer wil sien nie, net so onmoontlik is dit dat geluk vir jou om die draai wag as jy eenvoudig net vir dit sit en wag. Verstaan julle wat ek se? Want ek besef dat hierdie sin nou bietjie baie ‘wag’ woorde in het…
Ons kan nie WAG vir geluk nie. Ons kan nie net wag vir beter dae nie. Ons kan nie net wag om gelukkig te raak met ons omstandighede nie. Ons moet DOEN. As ons nie iets met tyd DOEN nie, dan gaan dit net verby. Ongebruik. Gemors. Ons moet iets met ons tyd DOEN, slegs dan sal ons om die draai kom waar die spreekwoordelik ‘geluk om die draai vir jou wag’.

Wat doen jy met jou tyd terwyl jy wag? Maak nou nie saak vir wat jy wag nie. As jy nie hierdie vraag onmiddellik kan beantwoord nie, is dit dalk tyd dat jy daaroor begin dink… en iets daaraan begin doen.

Ek moet groet, ek is oppad na ‘n wagkamer toe. Mag elkeen van julle vandag ‘n tevrede dag beleef.

“Don’t wait for things to get easier, simpler, better. Life will always be complicated. Learn to be happy right now. Otherwise, you’ll run out of time”

Janine