Ons almal het verskillende belewenisse van die dag-na-Kersdag. Sommiges is sommer net moeg, spatare gestaan tussen die stoof en die wasbak. Ander is weer uitgerus van n paar lui-lekker dae. Ek is vanaand weer gevul met n vol hart waarvoor my man en my seuns die krediet kan kry. Lekker gesinstyd is altyd n gevoel wat so knus in my hart gaan sit.

Ek wonder vanaand hoe Maria gevoel het die dag-na-Kersdag?
Ek twyfel of sy met n yskas vol oorskietkos en tafeldoeke met lekker-eet-vlekke gesit het. Sy het definitief met die ‘ultimate’ van Kersfees in haar arms
gesit – Jesus! En dit was genoeg! Nie slegs vir haar en vir Josef nie, maar so ook vir elkeen van ons steeds baaaie jare na Sy geboorte.
Mag ons elke dag besef dat Hy wel genoeg is vir ons, dat Kersdag se kostafels en samesyn net so n groot ekstra bonus is waarmee baie van ons geseën word.

Ek hoop jy kan vanaand in jou bed klim met mooi herinneringe in jou hart, kosbare oomblikke waarvan jy dalk deel kon wees. MAAR, ek hoop veral dat jy vanaand in jou bed kan klim met die wete dat Hy genoeg is. Genoeg is vir jou, ten spyte van die verloop van jou Kersnaweek.
Dat Hy genoeg is vir elke dag vanaf die-dag-na-Kersdag!

Dankie Jesus dat U vir my ook gebore is, maak my altyd bewus van die wete dat U genoeg is vir my.

Janine