Wat in jou lewe is daardie spreekwoordelike klippie in jou skoen? Dit wat jou keer om jou pad gemaklik te kan stap? Die gesegde sê nie verniet:

“It isn’t the mountains you climb that wears you out, it is the pebble in your shoe.” Dit is waar, né?

Soms voel dit vir my of my stapskoene vol klippies is. En al probeer ek om my skoen uit te skud voordat ek dit aantrek, is dit asof daar steeds ‘n ou skerp enetjie agterbly. En soms help dit dan nie meer om jou skoen uit te trek nie, want die velletjie van jou toon het reeds stukkend geskaaf.

Wanneer jy soggens jou skoene aantrek, wees bewus daarvan dat daar ‘n klippie in kan wees. Maar wees veral bewus van die effek wat die klippie op jou kan hê as jy dit nie uitskud nie. n Mens kan eenvoudig nie ‘n berg uitklim met ‘n klippie in jou skoen nie. Dit maak jou seer, dit maak jou moedeloos en dit vat die genot van die staproete weg.
Moenie bewustelik ‘klippies in jou skoene’ saamdra nie. Hanteer eerder daardie spreekwoordelike klippie in jou skoen. Moenie onnodige seerkry saamdra op jou pad nie.

Indien jou tone egter reeds nerfaf en stukkend is, wees sag met jouself. Haal uit die salf en versorg daai seer toon. Maar soos julle weet, is daar sommige seerplekke wat eenvoudig nie gesond wil raak nie. Dan is dit dalk tyd vir ‘n nuwe paar skoene voordat jy jou berg verder aandurf.

Of dalk, dalk is dit net tyd dat jy daardie seerplek weereens vir Hom gee …

Mooi naweek verder vir julle!
Janine