Ek lees ‘n ruk terug in die Lig tydskrif ‘n artikel wat dit so mooi saamvat, ek wil dit vir julle ook gee. Ek dink dit is juis vanpas vir hierdie tyd van die jaar, wanneer baie mense hulle skale nadertrek en die evidence van die winter in syfers na jou terugloer.

“Na ‘n koue winter en borde vol kos (en dalk met bloedweinig oefening) weet ek van min mense wat hulle nou op ‘n skaal sal wil begewe. Ja-nee, die pannekoek, bredie en kerrie het vir seker hul tol geëis. Dan praat ek nie eens van warmpoeding met vla nie.

Ek klim op my skaal – en huiwer eers voor ek dit waag om te kyk. Ek skrik en begin om deur my klere se sakke te soek. Is daar dan nie iets wat ek kan afgooi nie? Ek voel kompleet soos ‘n groot skip wat in die moeilikheid is, met desperate matrose wat alle swaar voorwerpe oorboord gooi. Ek vind in my sakke: my selfoon, sleutels, lipstiffie, ‘n ou inkopielysie … dit alles waai, maar die verskil op die skaal is minimaal. Ek maak my belt los, trek my skoene uit, ek gooi my jas op die grond.
Dit kan nie wees nie! Die skaal moet verkeerd wees. Ek klim af, laai ‘n vyf kg-gewiggie daarop, kyk angstig na die venstertjie – 05.00 (5 kg). Die skaal is nie verkeerd nie. Nou wat nou?

Later, toe die ergste ontnugtering verby is, dink ek ‘n bietjie dieper oor die saak. En ek besef: Ons weeg ons elke dag. Dis net dit wat op die skaal geplaas word wat telkens verskil. Soms sit ons ‘Besittings’ daarop. En soms ‘Sukses’. Sommige mense weeg graag ‘My kinders se prestasies’. En sommige ander ‘My geloof’. Die dinge wat ons op die skaal plaas, verklap dikwels ons prioriteite. En ons kry net so dikwels ‘n verkeerde lesing. Ons moet weet ons skaal kan foutief wees. Dit kan sekere dinge te swaar laat weeg en ander te lig. Ons moet ook besef dat ons geneig is om die verkeerde dinge op die skaal te plaas. Dat dit ons uiteindelik nie veel in die sak bring om ons besittings, ons sukses, ons voorkoms en ons kinders se voortreflikheid te weeg nie.”

Wat ek vandag op my skaal gaan sit, is nie my gewig nie. Ek gaan net dit wat vir my ewigheidswaarde het, daarop sit – dinge soos Gebed, Geloof, Familie, Vriende. Dink n bietjie wat jy op jou skaal gesit wil hê?

Mooi dag vir elkeen van julle!
Janine