Hierdie klink nou seker na n baie ‘depressing’ stelling vir julle. Maar besef jy werklik hoe waardevol dit is wanneer jy jouself gereeld hieraan herinner? Indien God vanoggend 6 uur vir my sou sê: ‘Janine, hierdie is jou laaste dag op aarde.’ Wat sou ek gedoen het? Sou ek die wekker nog n keer gesnooze het? Wat sou ek gedink het? Sou ek steeds gedink het dat ek tog net nie krag het vir hierdie dag nie? Of sou ek kon sê: ‘Dit is goed so Here, ek het gedoen wat ek moes doen.’

Ons wens soms so dat ons net nie meer op aarde hoef te wees nie. Daar in die hemel is alles mos net soveel beter. Soveel makliker. Alhoewel ek definitief nie die waarheid van n beter Ewige Lewe bevraagteken nie, is ek tog oortuig daarvan dat die meeste mense maar graag nog sou wou lewe indien hul die keuse het. Die meeste mense sou nie vandag wou doodgaan nie. Waarheid is, vandag lewe ek nog, lewe jy nog, en daarom dink ek dit is belangrik dat ons onsself gereeld die volgende moet afvra:

As vandag my laaste dag was, sou ek steeds vir my kind gesê het dat ek nou eenvoudig net te besig is om te luister na al die stories van sy dag?
As vandag my laaste dag was, sou ek my steeds vir my man vererg het omdat hy nie die krummels mooi opgevee het van die tafel af nie?
As vandag my laaste dag was, sou ek steeds tyd ingeruim het om iets venynigs te sê van iemand anders?
As vandag my laaste dag was, sou ek steeds hare gekloof het met my kind wat alweer nie sy bed netjies genoeg opgemaak het nie?
As vandag my laaste dag was, sou ek steeds my happy hond verskree het omdat hy my tuin omgedolwe het?
As vandag my laaste dag was, sou ek steeds daardie een persoon nog wou terugkry wat my te na gekom het?
As vandag my laaste dag was, sou ek my steeds bekommer het oor môre??
As vandag my laaste dag was, sou ek dalk n ekstra tydjie afgestaan om iets vir iemand anders te beteken?
As vandag my laaste dag was, sou ek my dag met gebed en gesprek met God begin en geëindig het?
As vandag my laaste dag was, sou ek tevrede gewees het met dit wat ek gister gedoen het?
As vandag my laaste dag was, wat sou ek graag nog wou doen?
As vandag my laaste dag was, wat sou ek graag nog wou sê?

Doen dit dan! Sê dit dan! Moenie uitstel nie! Dit is nie depressing om gereeld n bietjie self-refleksie te doen oor ‘as vandag my laaste dag was’ nie. Nee, dit is bemagtigend! Dit gee jou perspektief op wat belangrik is, op wat saak maak vandag. Dit gee jou perspektief op wat onbenullig is, wat geen ewigheidswaarde vir jou het nie. Dit gee jou perspektief op hoe jy jou tyd vandag moet spandeer. Dit gee jou perspektief op jou geliefdes.
En die heel belangrikste: Dit gee jou perspektief op jou persoonlike verhouding met God vandag.

As vandag MY laaste dag was, wil ek hê dat vandag saak gemaak het. Wil ek hê dat ek saak gemaak het. Wil ek hê dat my lewe saak gemaak het. Wil ek hê dat my vreugdes saak gemaak het. Wil ek hê dat my seerkry saak gemaak het.

Wil jy nie ook dit hê nie? Wat sou jy wou hê as vandag JOU laaste dag was?

‘I have learned to live each day as if it’s the last. After all, it might be the last’

Groete. Janine