Kinders het hierdie besonderse en ongelooflike vermoë om net mooi presies dit te word wat ons vir hulle sê hulle gaan word. Om dit te wees wie ons sê hulle is.

As ons gereeld vir ons kinders sê dat hulle sterk is, dan word hulle sterk.
As ons gereeld vir ons kinders sê dat hulle n omgee-hart het vir ander, dan kry hulle n omgee-hart vir ander.
As ons gereeld vir ons kinders sê dat hulle in staat is om enige iets te bereik wat hulle graag wil bereik, dan stel ons hulle in staat om wel enige iets te bereik.
As ons gereeld vir ons kinders sê dat hulle uniek is, dan weet hulle met sekerheid en vir altyd dat hulle uniek geskape is deur God, dat Hy slegs een van hulle gemaak het, na Sy beeld.
As ons gereeld vir ons kinders sê dat hulle kan, dan KAN hulle.
As ons gereeld vir ons kinders sê dat ons trots is op hulle, dan lewe hulle met trots in hulleself.
As ons gereeld vir ons kinders sê dat hulle goed genoeg is, dan weet hulle dat hulle goed genoeg is.
As ons gereeld vir ons kinders sê dat ons lief is vir hulle, dan leer hulle om lief te wees vir hulleself. En eers dan kan hulle liefde vir ander wys.

Ons moet lewe in ons kinders ‘inpraat’, sodat hulle oor DIT beskik wat nodig is om hulle eie lewens eendag onafhanklik van ons te kan lewe.
Sodat hulle oor die nodige vaardighede beskik om dit wat die lewe na hulle kant toe gooi, te kan tackle.
Sodat hulle eendag kan uitstyg bo dit wat hulle aftrek.
Sodat hulle hul eie lewens met selfvertroue kan bestuur.
Sodat hulle die lewe kan leef wat Hy vir hulle reeds in ONS moederskote beplan het.
Sodat hulle oorwinning oor die wêreldse lewe kan behaal in Sy Naam.

Ons as Mammas het n groot verantwoordelikheid – moet dit nie ligtelik opneem nie.

Sterkte met al die Mamma-pligte wat vandag vir jou wag! Maar geniet ook hierdie pligte wat so n groot voorreg is, want dan sal jy daagliks baie vreugde vind in jou Ma-wees.

Groete.
Janine