Ek sê julle nou, ek is invisible.
Dit het geleidelik gebeur. Ek het in die TV-kamer ingestap en gevra: ‘Sit die TV sagter asseblief.’ En niks gebeur nie. Uiteindelik moes ek self die TV sagter sit.
Ek sê vir my jongste seun: ‘Gaan gooi jou skoolklere in die was’. As ek ‘n paar uur later daar kom, lê die klere steeds op sy bed.
Ek sê vir my ander seun: ‘Kom help my gou met die skottelgoed, toe.’ Maar hy hoor my klaarblyklik nie, want na 10 minute staan ek steeds alleen voor die wasbak.
Verlede week vra ek vir my man: ‘Sal jy asseblief vir my hierdie boks daar bo-op die kas sit?’ Na ‘n week, lyk die boks al heel gemaklik op die kombuistafel.

Toe click ek. Ek is invisible. Niemand kan my sien of hoor nie!!

Toe my een seun klein was en ek saam met hom graad R klas toe gestap. het, het die juffrou die spesifieke dag gevra: ‘En wie is vanoggend hier saam met jou liefie?’ ‘Niemand nie’, sê hy. Niemand nie?? Regtig?? Jip, ek is definitief invisible!

Voel jy ook soms invisible? So asof dit glad nie gaan saak maak as jy nie vandag hier was nie?

Met die bou van die groot katedrale, staan op baie foto’s: Builder unknown, builder unknown, builder unknown. Die werkers het hulle lewe gegee vir die bou van hierdie majestueuse katedrale. Sommige van die katedrale het oor die 100 jaar gevat om te bou, dit wil sê, meer as een man in sy leeftyd het daaraan gewerk. Hulle het geen krediet gekry nie, elke dag werk toe gegaan terwyl hulle name nie eers na hulle dood daaraan gekoppel sal wees nie.

God sê egter: Ek sien jou, jy is nie invisible vir My nie. Ek sien elke daad raak, ook elke traan.

Onthou, jy bou ook aan ‘n groot katedraal, dit sal nie voltooi word in jou leeftyd nie, niemand gaan vir jou erkenning gee nie, maar Hy, die Here, sien dit raak.

Kom ek en jy probeer om altyd te onthou dat ons aan ‘n Groot Katedraal bou, al lyk dit of ons nou invisible is. Jou vrou-wees, jou ma-wees, elke dingetjie is nodig om jou huisgesin, of jou kinders, of jou man, vir Sy Grootheid voor te berei. Ons moenie moed verloor nie, baie dae voel dit asof ons geen, maar geen verskil in hierdie lewe maak nie. Asof dit nie eers sou saak gemaak het as ons nie hier was nie. Dit is nie waar nie. Onthou, jy is deel van ‘n Groter Plan. Hy het in jou ook ‘n klein mosterdsaadjie geplant. En dit is hierdie einste saadjie wat in die pragtigste, grootste boom gaan groei, so voor jou invisible oë …

Warm groete vir julle op n koue dag.

Janine