Ek weet nie van jou nie, maar ek wil nie hê dat my kinders moet sê wat ek alles doen nie. Dit is nie nodig dat hulle moet kan sê hoeveel ure daar aan kosmaak en aan skottelgoedwas spandeer word nie (alhoewel ek hulle self gereeld daaraan herinner 😂). Ek wil net hê hulle moet wil huis toe kom. Hulle moet hul vriende graag na ons huis toe wil bring.

Toe my seuns jonger was, het ek altyd tyd in my werk se dagboek uitgeboek om sekere dae of vakansietye, saam met hulle by die huis te wees sodat ons maats kon oornooi. Al daardie gegil en gejil van klomp maats wat heeltyd gevoer moet word, was vreeslik lekker vir my. Ek het behoorlik uitgehang met sweaties en chips uitsit, lekker bederfkos maak en alles regkry vir lekker speletjies speel tot laataand toe. Nou is my kinders groot, nou loer HULLE in my dagboek wanneer ek juis by die werk is, sodat hulle maats kan oornooi. Want wanneer kinders grootword, is dit nie meer ‘cool’ as Mamma ook saam rondhang nie. Is dit regtig nie meer ‘n bederf wanneer Mamma heeltyd koeldrank en chicken nuggets aandra nie. Nou wil hulle alleen met hulle maats kuier. En dit moet ook so wees! Nou kuier hulle nie meer heeltyd by hul ouerhuis nie, maar soms op ander plekke, onafhanklik van jou. Nou is jou werk net om hulle te gaan aflaai, jou beursie oop te maak en hulle weer te gaan oplaai. Nou is jou teenwoordigheid nie meer crucial wanneer hulle met maats kuier nie – nou moet jy jou juis skaars maak!

Is dit egter nie wonderlik hoe ‘n mens deur elke fase saam met jou kinders beweeg nie? Nou, na ‘n dag uit saam met pelle, is dit steeds lekker om jou kind in die bed te sit, al die stories te hoor en by te bly met hoe hulle harte klop. En meermale gebeur dit nou dat ek nie meer my kinders in die bed sit nie, maar hulle vir my – want nou gaan slaap ek vroeër as hulle! 🤣 Die spesiale oomblikke bly egter, die lekker gesels. Maar jy moet jou tyd vir geselsies reg kies wanneer jou kinders op ‘n ‘hi en bye’ stadium kom. Want indien jy nie die regte tyd kies om in te check nie, gaan hulle verby jou groei, gaan jy iets verloor wat jy nie wil verloor nie.

Ek het net twee seuns (ek wens ek het 4 gehad, ek is mal oor seuns), maar ek is so dankbaar – en soms ook hartseer – om te sien hoe goed hulle sonder my kan funksioneer. Hoe onafhanklik hulle hul lewens kan lei. Ek, ja EK is die een wat nie sonder hulle kan funksioneer nie. Maar ek hoef ook nie. Ek moet net my fokus verskuif, ek moet by hulle spesifieke lewensfases kan aanpas. Ek moet weet dat daar sommige dae net tyd is vir n ‘Hi Mamma’ en ‘Bye Mamma’ en dan moet ek nie karring vir meer as dit nie. Ons moet ons kinders se verskillende fases respekteer, ons moet volgens hulle pas kan beweeg, saam met hulle beweeg. Soms saam met hulle beweeg met raad en leiding, soms net tjoepstil saamstap.

Ek bid, vir my en ook vir jou, dat jy elke dag die wonder kan ervaar om so saam met jou kinders te groei. Ek bid dat jou kinders steeds huis toe sal wil kom, al is van hulle maats se huise nou lekkerder kuierplekke as jou huis. Ek bid dat jy die voorreg sal hê om steeds jou kind in die bed te sit saans, al beteken dit dat hy jou in die bed sit …

Mooi dag verder vir julle!
Janine