Hoeveel keer het ons nie hierdie woorde vir ons kinders gesê nie? 1-2-3 spring! Wanneer hulle huiwerig op die swembadrand staan, wanneer hulle op die bed staan en jy jou arms uithou sodat hul kan spring.
Wanneer MY kinders egter gesê het: ‘Vang my, ek gaan spring, 1-2-3’, dan wou ek uitskree: ‘Nee, moenie! Ek kan nie sien om jou te vang nie!’
Maar probeer dit nou vir ‘n 2jarige vertel wat glad nie besef dat sy ma nie kan sien nie. Groot trane soms gewees. Want hoekom het Mamma my nie gevang nie?! Daardie geskokte ongeloof in my kind se stem …

Wel, God is definitief nie blind nie, daarvan is ek doodseker. Ek het sowaar al ‘n klomp kere ‘1-2-3 ek gaan spring’ gesê, en nog elke keer het Hy my gevang. Raak gevang. Hy sien ons, al kies ons soms onbewustelik om Hom nie raak te sien nie. Hy kyk met sagte oë na ons, en vang ons met nog sagter arms.

Indien jy vandag voel dat jou 1-2-3 deesdae nie op ‘n sagte landing eindig nie, moet jy dalk kyk of jy nie per ongeluk skeef spring nie? Spring jy nie dalk links of regs van die Arms verby nie? Dit gebeur so baie kere met my – en dit nie omdat ek nie kan sien waar om te spring nie, nee, dis omdat ek vergeet in Wie se Arms ek moet inspring. Ek dink sowaar soms dat ek hierdie ding wat LEWE genoem word so op my eie kan doen. Nee, ek kan nie. Jy kan ook nie.

Kom ons neem vandag weer die besluit om te spring, elke keer in die regte rigting in. Moenie ophou spring omdat jy die vorige keer dalk in geskokte ongeloof nie ‘n sagte landing gehad het nie. Hy IS daar, Hy staan altyd daar, gereed, Sy arms wyd oop, net vir my en so ook vir jou.

Sterkte vir jou spronge, mag jy genoeg genade ontvang om letterlik blinde spronge te doen, want jy weet in Wie se Arms jy inspring.

Groete.
Janine